Ben se Webwerf - Akteur

Oor my werk

Ek is seker die meeste bekend vir my televisiewerk, onder andere die volgende rolle:

  • Christo de Wet in "Skooldae I, II en III".
  • Kobus Koen in "The Game I, II en III".
  • Sakkie Bezuidenhoudt in "Zero Tolerance I, II en III".
  • Neef Gert in "7e Laan".

Ek het ook in verskeie plaaslike en internasionale rolprente opgetree, onder andere ‘n fliek met die naam "Okavango" wat spoorloos vabn die radar af verdwyn het – ook maar goed want ek het ‘n karakter gespeel met die naam van "Dog Schmidt", die leier van ‘n groep hardebaarde in ‘n fliek wat beskryf is as "a Mexican bandit picture set in Africa"! (Maak gerus jou eie gevolgtrekkings...) Saam met my in die rolprent was ‘n paar groot name soos Danny Keogh, Rex Garner en die baie gawe Amerikaanse akteur , Phillip Brown van Dynasty.

‘n Ander lekker fliek was Cry the Beloved Country, met Richard Harris and James Earl Jones. Ek was "Cop 1". (Cop 2 is gespeel deur Dan Robbertse, ‘n rol wat hy deur die jare tot foutloosheid verfyn het!) Ek het twee tonele saam met meneer Harris gehad en ons het onself gate uit geniet met ons gesprekke oor rugby, Ierse Whisky en musiek.

My grootste oomblik in die fliekwęreld so ver, was "The Mandela and De Klerk story" met Micheal Caine en Sidney Poitier. Meneer Poitier was Mandela en Micheal Caine het FW de Klerk gespeel. . Ek was James Gregory, een van Madiba se tronkbewaarders wat later een van sy goeie vriende geword het. Dis was ‘n plesier om saam met een van die legendes van die rolprentwęreld te werk en al my tonele was teenoor Sidney Poitier.

Op die verhoog

My eerste liefde is, en sal altyd die verhoog bly. Ek was gelukkig om deel van die geskiedenis te wees toe TRUK (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) hulle laaste klomp verhoogstukke in die Breytenbachteater in Sunnyside, Pretoria gedoen het, en ek was deel van die opening van die manjefieke Staatsteater in die middel van Pretoria.

Dit was inderdaad wonderlike dae maar ongelukkig is die teater na die agterbanke van ons Suid Afrikaanse Kunswęreld geskuif en die hoogtepunt het televisie sepies geword waarvan ons dalk te veel het.

Vertolkings waarop ek nogal trots is, sluit in:

  • Jakes in “Siener in die Suburbs”
  • Louis Botha in “Vereeniging, Vereniging”
  • Horatio teenoor Marius Weyers as “Hamlet”
  • Senior in “Ek, Anna Van Wyk”
  • Don Juan in “Don Juan onder die boere”
  • Roby in “Die tweede dood van Roby Leibrandt”

En so gaan die lys aan, amper 50 toneelstukke in totaal.